Die PWL vertaling is uniek in Afrikaans omdat dit die enigste vertaling is wat vanuit Aramees as hoof-bron vertaal is, en een van min wat nie deur die Bybel-genootskap gemodereer is nie. Dit beteken dat teologiese benaderings en vraagstukke gladnie in die vertaling ingewerk is nie. Die vertaling volg ook, waarookal moontlik, die Aramese geskrifte vir die nuwe Verbond, en Grieks en Hebreeus vir die ou Verbond. Die keuse van woordverandering van "Testament" na "Verbond" is gemaak oor die verstaan van die woord "testament" in moderne Afrikaans. Die woord is algemeen verstaan as "getuienis", maar het dié betekenis grootendeels onder gelowiges verloor. So is die besluit gemaak om die twee dele van die Bybel eerder "Verbonde" te noem, na die Verbond wat God met elkeen sluit in daardie dele. Hierdie dui op die "lewendheid" van God se verbond, of kontrak, met die mens, teenoor net 'n dooie "testament".
Hieronder is meer informasie oor die geskiedenis van die PWL, sowel as basiese informasie oor die Aramese taal. Klik die afdelings hieronder om die artikels oop te maak.
Daar is verskeie mense wat bygedra het tot die PWL Bybel en die werk ondersteun en bevorder het.
Die vertaling van die Bybel is gedoen in direkte opdrag van יהוה-God aan Gerrie Coetzee, om die Woord weer terug te bring aan die Afrikaanssprekendes in Suid- Afrika. Gerrie is met hierdie doel saam met sy vrou, Hanlie, terug na Suid-Afrika in 2006, vanwaar die vertaling begin het. Hier volg 'n kort bio oor elkeen wat betrokke was met die eerste druk van die Bybel, en die grondslag van die vertaling.
Gerrie kom oorspronklik van die Vrystaat, waar hy sy graad in teologie ontvang het in 1976 vanaf die Universiteit van die Vrystaat. Hy het toe uit die NG-kerk uitgetree en het voltyds in die sending ingegaan, veral in die verre-ooste.
Hanlie is 'n oud-sendeling kind uit Malawi waar haar ouers NGK-sendelinge was. Sy het in Wellington en Stellenbosch haar graad in onderwys voltooi, en is self toe in die sending in saam met Gerrie, na hul troue. Haar agtergrond in onderwys en redigering was baie waardevol in die nasien van die Bybel.
(Oom) Piet Ferreira is 'n afgetrede remediërende onderwyser in Pretoria wat gehoor het van die vertalings-projek in 2010 en sy dienste aangebied het as redigeerder en raadgewer. Hy was saam met Rohan en Hanlie 'n kritiese deel van die proses waarsonder die vertaling nie so vinnig of op standaard sou wees nie.
Rohan Lourens is vanaf 2010 betrokke by die PWL en het saam met Hanlie en Oom Piet die Bybel deurgewerk om die verwysings in te sit en leesbaarheid te toets. Hy het as besigheidssielkundige gekwalifiseer, maar het opgehou om eerder sy roeping van musiek te volg. Hy was die PWL se eerste offisiële worship-leier.
Die storie van die PWL begin in Indië, waar die Coetzees sendelinge was vanaf 1995. In 2003 het hulle die vertaling van sewe boeke van die Nuwe Verbond in Tibetaans voltooi en gedruk as hulp vir die evangalisasie werk onder die Tibetane. In 2006 is 'n basiese en gevorderde dissipelskap boekie in Tibetaans / Engels parallel gepubliseer.
Hierdie vertalingswerk was goeie oefening en voorbereiding vir Gerrie in vertaling en kan gesien word as die voorbereiding vir sy Afrikaanse-taak. Hierdie taak is in 2005 aan hom deur God gegee en het hy daarmee begin. Na die voltooiing van hul Tibetaanse-taak, is die Coetzees in Oktober 2006 terug Suid-Afrika toe om die werk hier te begin.
Die vertalings-werk na Afrikaans toe het in 2007 in alle erns begin op 'n plaas van familie-vriende net buite Stilfontein. Dit was gehelp deur die waardevolle agtergrondstudies wat al in Indië gedoen is in beide Hebreeus en Grieks. Die vertalingswerk het begin met die Nuwe Verbond en is op 'n letterlike, woord vir woord, sin vir sin basis vertaal vanuit die ‘Textus Receptus’, ('n Byzantynse-era stel manuskripte), met ‘Stephens 1550’ as hoofbron.
Reeds tydens die vertalingswerk in Indië het Gerrie opgemerk dat daar 'n menigte verskille tussen die Griekse manuskripte, wat as die "oorspronklike" aangedui word, was. Kruis-navorsing met die ander twee hoof bronne, die Alexandrian en Syriac kodekse, het oor die 2000 verskille tussen die hoofbronne gekry en het toe gelei na die vraag: Wat is dan die waarheid?
Die antwoord was wel nie voor die hand liggend nie, en dus is die groot meerderheid van die Nuwe Verbond uit Grieks na Afrikaans vertaal, met baie kop-krap en wonder oor wat nou eintlik in die oorspronklike moes staan as daar soveel verskille was.
Vroeg in 2009 het Gerrie onder leiding van God die Aramese oorsprong van die Nuwe Verbond ontdek. Hierdie konsep is iets wat al vir baie jare bekend was in sekulêre akademiese sirkels, maar nooit deur teologiese skole of Bybel-kenners ernstig opgeneem is nie. Ten spyte van 'n erkenning dat Yeshua en sy dissipels bes moontlik Aramees gepraat het, misken hulle grootendeels die feit dat die Apostels ook bes moontlik hulle geskrifte in Aramees geskryf het.
Die ontdekking en besef van hierdie kardinale belangrike feit het Gerrie toe gelei na 'n akademiese gemeenskap wat die Aramese-oorsprong van die Nuwe Verbond bevorder. Hulle het hom gehelp om die bronne te kry en te begin om Aramees te leer lees. Al het dit beteken dat die vertaling nou van voor af moes geskied, was dit darem nou gebasseer op waarheid.
Tussen 2009 en 2013 is die vertaling se grootste werk alleen deur Gerrie (met ondersteuning vanaf Hanlie, Oom Piet en Rohan) gedoen, te midde van die ontstaan van 'n gemeente rondom die vertalings-projek, en verhuising van die Coetzees na Pretoria. Die eerste weergawe wat 'Die Pad van Waarheid tot die Lewe' naam gedra het is in laat 2013 voltooi en is toe deur verskeie mense geproeflees oor die volgende twee jaar. Hoof onder hierdie proeflesers is Oom Piet en Rohan Lourens wat saam met Hanlie tientalle kere deur die hele Bybel gewerk het om tik-foute op te spoor, verwyssings in te sit en die algemene leesbaarheid en logiese uitleg na te gaan.
Op 11 Januarie, 2016 land die eerste offisiële druk vanaf China in Pretoria en die verspreiding van die Bybel begin. God se opdrag aan die Coetzees was dat "vrylik het julle ontvang, vrylik moet dit gegee word", en dus is alle Bybels en materiaal gratis uitgedeel, sonder enige koste. Hierdie is grootliks gedoen by bekendstellings en funksies wat deur mense gereël is wat belang gestel het in die Bybel.
Tydens hierdie tyd het die vertalingswerk nie gestop nie en is die teks meer verfyn, en soos die studies in Aramees gegroei het, is dieper betekenisse ontdek wat verlore was in vertaling. Hierdie veranderinge het gelei tot die tweede weergawe van die PWL wat in middel 2017 geland het in Pretoria.
Hierdie weergawe het die standaard PWL-vertaling geword waarvan daar meer as 20 000 kopieë versprei is. Na die publikasie van hierdie weergawe is die Coetzees met mening die land in en het die fokus begin skuif na die ander dele van die visie wat God hulle gegee het. Die PWL gemeente is gevestig as gemeente vanuit die Bybel-studie groep wat dit was, en die voorsiening van mense binne en vanuit die gemeente het begin.
In hierdie tyd het die vertalings-werk en navorsing stadiger geraak, maar nooit gestaak nie. In 2025 is die finale weergawe van die PWL gefinaliseer en gedruk. Hierdie sal die laaste weergawe wees wat as verskillende "weergawe" uitgegee word en, behalwe vir klein errata, sal die vertaling grootendeels dieselfde bly.
Hierdie is 'n kort opsomming van die geskiedenis van die Aramese Taal en Skrif. Dit is bloot bedoel as inleiding en vir agtergrond. Die land, tale en kulture van die Ou Nabye Ooste is baie meer gekompliseerd as hierdie en as u dieper navorsing verlang kontak ons asseblief. Daar is aanlyn ook talle akademiese stof beskikbaar oor die onderwerp.
Aramees is 'n antieke taal van die Semitiese groep - gepraat deur die Assiriërs, Babiloniërs, Galdiërs, Arameërs, Hebreërs en Persiërs. Groot dele van die Hebreeuse taal is geleen vanuit Aramees, insluitende die Alfabet. Die oudste Aramese dokument wat reeds gevind is, dateer uit 1000 - 900 voor Yeshua (vY).
Baie meer van die TaNaKh (OT), as wat vroeër gedink is, is oorspronklik in dialekte van Aramees geskryf. Aramees word ook aangehaal in die eerste boek van die Bybel in Genesis 31:47. Die ganse Nuwe Verbond is in Aramees geskryf. "A Grammar of Biblical Aramaic" deur Franz Rosenthal, 1961, verklaar op bl. 14 "Certain Hebrew Texts of the Bible have been recognized as translations from an Aramaic original." Aangesien Yisra'el na die Aramees-sprekende dele weggevoer is, is dit nie vergesog om te dink dat baie van die geskrifte wat tydens die tyd van ballingskap geskryf is in Aramees geskryf is nie.
Die storie van Aramees begin in om en by 1200-1000 vY met die Aramese stamme wat uit die Suid-oosterlike woestyn (moderne Saudie Arabië) gekom het. Hulle het in hierdie tydperk begin om op ekonomiese, politiese en militêre maniere die Assiriërs, Babiloniërs, Mittaniërs en Noord Kanaaniete te oorheers en so hulle taal versprei. Hulle het die handels-skrif van die tyd, Laat-Kanaanieties/Fenisies, oorgeneem en vir Aramees, wat 'n susters-taal van Kanaanieties en Hebreeus was, aangepas. So is Aramees die hoof handels-taal van die ganse Ou Nabye Ooste gemaak.

Later toe die Persiërs die Midde-Ooste oorneem het hulle Aramees versprei as amptelike taal. Onder die heerskappy van koning Darius I (522-486 vY) is Aramees aktief versprei en afgedwing (sover moontlik) as die taal van al die volke in sy ryk. Só is Aramees teen omtrent 500 vY die lingua franca gemaak van die hele Midde-Ooste, van Egipte tot Afghanistan. Hierdie het Israel ingesluit, waar die taal reeds vroëer as die Ballingskappe (732, 721 en 587 vY) versprei het en deur die mense teruggebring is in Ezra se tyd. Interessant genoeg is Aramees vir alledaagse taal gebruik en Hebreeus is as godsdiens-taal behou tot na Yeshua.

Aangesien Aramees so 'n maklike taal was om te leer, en deels omdat dit inheems tot die streek was, het dit maklik die Griekse inval van Alexander die Grote in 332 vY weerstaan. Tydens hierdie tydperk het die taal verdeel in twee hoof dialekte: die Oosterse en Westerse Aramees met hulle sub-dialekte. Die Westerse Aramees bestaan uit Palestyns-Joodse Aramees, Samaritaanse en Siriese Palestyns-Christen Aramees aan die kus van die Mediterreënse See. Die Oosterse Aramees is in Mesopotamië se area gevorm en bestaan uit Siries, Babilonies, Talmudiese Aramees en Mandaic. Onlangse ontdekkings in Egipte het waardevolle bydraes gemaak tot die studie van Bybelse geskrifte in Aramees. Die volop gebruik van die taal hier dui ook op die Aramese skrif se populariteit. Daar is tot Romeinse administrasie dokumente in Aramees gekry, oënskynlik omdat dit makliker is om wiskunde in Aramese in plaas van Latynse nommers te doen.

Die Grieke het Aramees "Syriac" genoem, vernoem na die provinsie van "Syria" wat tydens hierdie en die latere Romeinse tyd beheer oor die area uitgeoefen het. Die woord is nooit deur die plaaslike mense gebruik nie. In hierdie tyd het die skrif meer blokkie-agtig geword met die ontwikkeling van die Ashuri Aramese skrif. Manuskripte tot en met 100 nY is geskryf in die Ashuri-Aramese skrif, wat meeste mense ken as 'n "Hebreeuse" skrif. Manuskripte vanaf 100 nY is in die Estrangelo skrif geskryf, onder meer die dokumente van die eerste kerk. Dit is in hierdie skrif wat die oudste geskrif van die Nuwe Verbond te vinde is. Na die 5de eeu het 2 ander skrifte ontwikkel: Serto en Madinkhaya of Swadaya, maar is in die 7de eeu deur Arabies vervang as lingua-franca.

Vandag word Aramees hoofsaaklik as 'n minderheids-taal in Irak, Iran, Sirië, Israel en Lebanon gepraat met verskeie tale soos Arabies en Armeens (van Armenia) wat hulle oorsprong in Aramees het.
Die PWL vertaling is 'n letterlike verklarende vertaling. Dit beteken dat die teks soos dit in die bron-manuskripte staan se betekenis op die mees verstaanbare manier in Afrikaans weer gegee is. Daar is telkens die oorspronklike betekenis weergegee, met geen teologiese- of moderne byvoegings en verstaan nie. Hierdie byvoegings gebeur gewoonlik as gevolg van 'n miskenning van die bron-tekste as nie-Semities. Bron-tekste word gewoonlik vannuit Grieks en 'n Griekse oogpunt benader. In die PWL vertaling is die oorspronklike teks dus vanuit 'n Semitiese oogpunt gelees en interpreteer om die oorspronklike betekenisse te ontgin en weer te gee.
Iemand wat die PWL-Bybel oopmaak sal dadelik verskeie veranderinge sien wat dit onderskei van ander vertalings. Die eerste, grootste verandering is dat die Name almal verander is na hulle oospronklike name in Hebreeus en Aramees. Hierdie is gedoen om die konsep tuis te bring by die leser dat die oorspronklike name iets beteken het en baie kere 'n booskdap dra wat intussen verlore geraak het.
Die tweede groot verandering wat opgemerk word, is dat die volgorde van sommige boeke verander het. Hierdie is bloot om die Aramese oospronklike volgorde te volg wat, veral in die Nuwe Verbond, meer sin maak as die tradisionele volgorde. Die boeke in die Nuwe Verbond volg dus van maklik/inleidend (die Evangelies) na boeke wat vir nuwe gelowiges is (die Algemene Briewe) en dan Shaul (Paulus) se gevorderde Briewe.
Die vertaling van die Ou Verbond is uit hoofsaaklik die Griekse Septuagint gedoen. Een van die grootste ironië van Bybelvertaling is dat die oudste, mees betroubare volledige teks van die Ou Verbond die Griekse Septuagint, of LXX, is. Terwyl daar baie brokkies en gedeeltes van die Ou Verbond bestaan in die Dooie See Rolle (DSS), is min van hulle volledig genoeg om as hoof-bron te gebruik nie. Die standaard Hebreeus, bekend as die Masoreties Teks, is ongelukkig eers tussen die 7de en die 9de Eeu AD, lank na Yeshua se tyd, voltooi. Dit is algemeen aanvaar dat hierdie manuskripte baie foute bevat en oor die algemeen word die Septuagint, die Aramese Peshitta, en die Samaritaanse geskrifte van die Ou Verbond verkies bo die Masoretiese Teks as bron. In die PWL is die Septuagint en die Aramese Ou Verbond gebruik as bronteks, maar steeds vergelyk met die Masoretiese en Samaritaanse tekste.
Die vertaling van die Nuwe Verbond is gedoen vanaf die oorspronklike Peshitta, (wat ‘reguit’ beteken), Aramese Nuwe Testament en die Khabouris kodekse, saam met die gebruik van reglynige vertalings en woordeboeke.
Die Gwilliams-Pinkerton 1920 kritiese uitgawe van die Peshitta, met verwysings na die 1905 Peshitta uitgawe, is gebruik as kontrole teenoor die ‘Khabouris’ - Oosterse Peshitta manuskrip, gekopieër vanaf ‘n sesde eeuse manuskrip. Hierdie ou manuskrip het in die mate waarin sy bladsye duidelik is, die kern van die vertaling uitgemaak. Ons het grotendeels J.P. Silwer se transkripsie van die dokument gebruik, wat ons taak aansienlik vergemaklik het en waarvoor ons ewiglik dankbaar sal wees. Dit is ‘n getroue weergawe van die eerste eeuse geskrifte wat reeds vanaf die begin in die Kerk van die Ooste gebruik is. Die basis vir 2 Kefa (Petrus), 2 en 3 Yoganan (Johannes), Y’hudah (Juda) en Openbaring is geneem vanuit John Gwynn se uitgawe van die Algemene Briewe, “The Crawford Aramaic Manuscript.”
Met nuwe bevindings in die British Library, het daar ouer geskrifte vorendag gekom wat fisies ouer is as die bogenoemde geskrifte. Hierdie manuskripte sal deel vorm van die voortgaande navorsing en redaksie van die PWL-Bybel.
Die akademies ontvangs van die vertaling vanuit, hoofsaaklik die teologiese wêreld, was uiter aard grotendeels negatief. Dit was te wagte, aangesien die PWL se vertalingsbeginsels die kern-teorie van Bybel-vertaling bevraagteken, naamlik die Griekse oorsprong van die Nuwe verbond.
Hierdie is te verstane, aangesien die Bybelkunde departemente by meeste groot universiteite die Aramese oorsprong nog nooit ernstig opgeneem het nie. Hierdie is ten spyte van baie navorsing (in nie-teologiese departemente) wat in die vorige eeu gedoen is wat bewys dat Aramees die hoof taal van die streek en tydperk was. Die Nuwe-Testament studies departemente is oor die algemeen ongelukkig te diep in Grieks ingesetel en sal moeilik hul denke hieroor verander. Dit is die natuur van akademici en ons hoop maar net dat daar in die toekoms meer navorsing op hierdie gebied sal geskied in teologiese departemente. Ordentlike akademise navorsing sal nie net die PWL se standpunt bewys nie, maar ook enige foutering wat gemaak word deur die PWL kan uitwys.
Dr Chris de Wet, destyds van UNISA, het 'n resensie geskryf oor die PWL vertaling getieteld: "Kritiese respons op: “’n “Oorspronklike” Aramese Nuwe Testament? ’n Kritiese evaluasie van die Pesjitta-voorrangsteorie, Die Pad van Waarheid tot die Lewe-vertaling (Afrikaanse Lamsa-Bybel), en die kulturele aanloklikheid van oriëntalisme". In die skrywe is hy ongelukkig deur sy bevooroordeling meegesleur en het 'n persoonlike aanval geloots teen Gerrie Coetzee, in plaas van die stellings aan te vat wat in die PWL se opmerkings en vertalings dokument (albei kom voor in die gedrukte Bybel) voorkom. Hy is puntsgewys geantwoord deur Gerrie, maar hierdie antwoord is nooit gepubliseer nie. Sy resensie, sowel as die antwoord vanaf Gerrie is hieronder beskikbaar:
In 2020 is daar op www.bybelkennis.co.za 'n vraag gevra oor die PWL vertaling. Hierdie is toe deur Prof van Zyl, van die Universiteit van die Vrystaat geantwoord met verwysing tot Dr De Wet se resensie. Ongelukkig was Prof van Zyl nie bewus van Gerrie se antwoord nie, so dit was nie ingesluit in sy redevoering nie.
Professor van Zyl se antwoord is meer akademies van formaat, en poog nie om mense sleg te sê nie, in teenstelling met dié van Dr de Wet. Dit stel die Nuwe Testament-studies se akademiese standpunt duidelik, en lewer kritiek op die PWL se vertalingsbeginsels en bronne vanuit hierdie oogpunt. Hy lewer ook advies oor wat die PWL beter kan doen en stel. Sy hoofpunt is dat die Aramese bronne nie genoegsame akademiese studie ondergaan het nie, en dus bevraagtekenbaar is. Hy is wel oop vir 'n verandering in denke as die konsensus verander te midde van bewyse.
Professor van Zyl se skrywe is hieronder op die BybelKennis webtuiste te vinde, asook in PDF formaat:
BybelKennis - PWL/Prof van Zyl